eKerk brief vanaf Stephan Joubert
Lyk my, mens kan ook nie 'n Kersseisoen deurgaan sonder om 'n paar klagtes aan te hoor oor die kommersialisering van Kersfees nie. So ver terug as wat ek kan onthou, doen party godsdienstiges dit. Help hierdie geklaery oor die misbruik van Kersfees? Ek twyfel. Gaan die uitbuiting van Kersfeestyd skielik ophou omdat kerklikes daarteen te velde trek? Waaskynlik nie! 'n Ander oplossing dalk? Wat van 'n meer persoonlike een? Bedoelende, jy en ek wat die Christuskind as ons Heer ken, moet hierdie feestyd 'n ander soort feesgewaad dra. Ons feesvierings moet vertel van die Kind van die krip wat 'n nuwe soort vrede tussen ons laat neerdaal het. Ons woorde, maar veral ons dade van medelye jeens diegene wat nie feeskos of mooi geskenke gaan hê nie, moet getuig van ons Heer se hemelse vrygewigheid. Dan lyk feestyd in ons omgewing strate anders. Dan tooi ons daardie stukkie wêreld waarbinne onsself leef, werk en speel met die regte vreugde. Dan hoef ons nie saam te sing in die koor van foutvinders, kritiseerders en protesteerders wat niks meer as dit ooit gedoen kry nie.
Leer sommer ook in Kerstyd by Jesus se gunsteling mense, die kindertjies, hoe om te speel en te ontspan. Leer by hulle jy moet jouself nie so ernstig opneem nie.
Jy is steeds net 'n kind in 'n grootmenslyf. Maak genoeg tyd om te lag en te speel, en om uitbundig te wees.
Sal dit nie wonderlik wees as rus en ontspanning in die res van 2009,
en ook in 2010,
heeljaar deel van jou lewe is nie?
Jou lewenskwaliteit sal dan dramaties verander.
Jou verhouding met die Here en ander mense sal ook anders daar uitsien.
Jy sal die Here op verrassende nuwe maniere ontdek wanneer sorgvryheid in jou lewe wen.
Gebed
Ek vier vandag en elke ander dag U geboorte, Heer
U koms is ons enigste hoop
U liefde wat dade geword het is ons lewe
Sonder U wil ons nie asemhaal nie
Sonder U is ons hoop verlore
Wees vandag naby ons
Amen
0 comments:
Post a Comment